top of page

Atlas en Tossel

“Ek hoor hulle het anderdag daai bank van ons beroof,” sê Skoep. Gelukkig, sê Dawie, is dit nou Absa, so dit is die ANC se probleem. As dit nog Volkskas was, was hy nou bekommerd, want hy het altyd ‘n oortrokke rekening daar gehad. Hy het sommer die tjeks gewissel by Flip de Wet se hotel.

“Man, ons polisie is so treurig deesdae,” beduie Skoep vir ‘n nuwe dop; “Dis nie soos in die tyd van die Ruiter in Swart en die Zarps nie”.

Destyds kom daar mos twee Engelsmanne aangesit met die poskoets in Krugersdorp. Ene McQueen en Turpin. Die pasaat het gewys hulle kom van Kimberley af. Hulle sê McQueen het sulke nou ogies gehad. ‘n Regte skelm.

Sersant George Tossel van die Zarps is die plaaslike geregsdienaar. Hy is een van daardie manne wat groot behae daarin skep dat hy oom Paul Kruger se Republiek dien en beskerm. Serve and protect. Die mense van destyds het te vertelle dat Sersant Tossel meeste van sy tyd verwyl het by die perdewedrenne by Turffontein, want polisiemanne moes destyds hulle salarisse aanvul uit ander bronne as korrupsie.

Sersant George Tossel het presies geweet watter perde bietjie dagga kry en watter jokkies bietjie pak kry agter die kroeg. Dis nie korrupsie nie, dis net so effense binnehandel. So het Tossel ‘n paar pond gemaak op die beroemde renperd Atlas. Atlas, sê hulle, was so vol goed gepomp dat hy alewig gestaan en trippel het en sy lyf was pal uitgeslaan van die salpeter.

Toe kom McQueen en Turpin daar aangesit en hulle staan lank in die grondpad en kyk vir die Standard Bank. Omdat hulle Engels met mekaar gepraat het, het geeneen van die ordentlike mense geweet wat hulle eintlik daar soek nie.

Die bankbestuurder met sy knypbrilletjie sit nog en pondnote tel, toe staan McQueen en Turpin skielik voor hom met oorgehaalde pistole. McQueen bind hom sommer so sit-sit vas op sy stoel en Turpin gryp 200 pond se note. En daar gaan die twee Engelse – uit die bank, op hulle perde, stywe galop Johannesburg se rigting toe.

Lang storie kort: Sersant George Tossel van die Zarps spring op sy perd en jaag die twee agterna. Maar staatsperde is stadig en die twee Engelse verdwyn oor die koppie by Witpoortjie.

Sersant Tossel ken sy distrik. By Witpoortjie spring hy af by die renperdeienaar Japie Coetzer en hy skreeu hees terwyl hy sy rewolwer rondswaai: “In die naam van Oom Paul – bring vir Atlas!”

Japie skrik himself natuurlik desmoers omdat die Zarps sy perd opkommandeer vir die President. Hy hol en gaan haal vir Atlas waar diè ewe groot-oog staan en kou aan tef besprinkel met vars Vaalrivier-dagga.

Sersant George Tossel trek die opgehotte Atlas oop. Tot hulle krediet moet ‘n mens vir McQueen en Turpin toegee dat hulle gesien het hulle turf sit teen die perd van Turffontein. Die mense sê Tossel en Atlas het hulle so vinnig ingehaal dat hulle al vyftig treë verby McQueen en Turpin was drie myl voor Johannesburg. Sersant Tossel het die twee toe maar so met die omdraai gearresteer.

“Weet jy wat is die mooi van die storie?” vra Dawie en hy teug diep aan die glas wat Sanja, ons mooie kroegmeisie, aangedra het; “Die mooi van die storie is dat Standard Bank uit dankbaarheid vir Japie Coetzer 100 pond gegee het om vir Atlas voer te koop”.

Japie en George Tossel het saam Vaalrivier toe gery en die voer gaan koop. Die mense sê die twee het vreeslik gesing op pad terug en Atlas was spierwit uitgeslaan van die salpeter.

SELFS ONS HOERE HET KLAS

Hannes Engelbrecht

Jy sien, ons Boere doen die ding goed.

Doer in 1883 loop ene French Bob Robert so lekker in die Boererepubliek rond naby Barberton toe hy goed sien blink in die koppies op Moodie se plaas. French Bob val amper op sy rug en die adrenalien pomp hom rooi in die gesig.

Dit is so dat goud snaakse dinge aan ‘n man doen. Eers het die boere van Barberton van niks geweet nie, maar toe hulle drie dae na mekaar sien hoe French Bob met ‘n skopgraaf besig is om ‘n waterkanaal na die koppies te grawe het hulle hom begin afloer. Sulke dinge bly nie lank geheim nie; en toe French Bob nog dink hy grou sloot toe sak die boere en die Engelse en die Skotte toe op die koppies met skopgrawe en emmers en toue en goudsiwwe.

So saam met Barberton wat skielik uit sy nate bars kom die poskoets eendag daar aangesit met die mooiste dingetjie denkbaar. Netjies van lyf, mooi van gesig en met rooi hare wat wip-wip in die windjie.

“Liz”, sê sy toe die manne haar naam vra. “Lus,” sê die manne.

“Wat doen jy hier, Liz?” vra een man.

“Snoeker en biljard,” sê Cockney Liz.

Dit is so dat mooi meisies groot manne om hulle pinkies kan draai – en voor jy kan sê “mes” toe bring elke man in Barberton ‘n plank of ‘n sink en hulle slaan vir Cockney Liz ‘n biljardkamer aanmekaar in die hoofstraat.

Maar Cockney Liz had klas. Sy is nie sommer ‘n kommin ding wat hier aankom nie. Stafford Parker is destyds die beste afslaer in Barberton en Cockney Liz het hom eendag gaan sien vir ‘n saketransaksie.

Jong, toe is dit vir jou ‘n ding: elke aand speel die manne snoeker. Met toemaaktyd dan klouter Cockney Liz op die biljardtafel. En dan kom die gevierde afslaer Stafford Parker en hy begin ‘n veiling. So verkoop Cockney Liz haar dienste elke aand aan die hoogste bieër. Die manne betaal sommer met sulke hompe goud. Want, verstaan mooi, Liz was ‘n mooi meisie.

Nou is dit ook so dat party jongmanne se hormone hulle breine verbysteek. Een mooi somersnag staan Cockney Liz op die biljardtafel en Stafford Parker jaag die manne teen mekaar op. Foeitog, hier kom so jong slungel vol hormone en hy waai sy sertifikaat van duisend goudaandele in die lug. Stafford Parker sê nog: “Bod toegeslaan op die jong man met die duisend aandele!”, toe vang die rou brandewyn die arme jong slungel en hy slaan in ‘n dranknewel neer op die vloer.

Volgende oggend vroeg is Cockney Liz met haar duisend aandele in Harry Graumann se kantoor en sy verkoop die sertifikaat vir 850 pond. Toe is Cockney Liz die rykste hoer in die Boererepubliek.

Sy huur bouers en sy bou die grote Royal Albert Hall Restaurant in Barberton. En sy kry vir Emily Fernandez en ‘n paar ander vriendinne om diens en diens te lewer. As die Boeregeneraals en Volksraadslede besoek aflê op Barberton dan sorg Liz en Emily dat die manne genoeg proviand het.

Die hele ding was so groot inspirasie dat selfs president Paul Kruger in 1885 daar die eerste keer in sy lewe ‘n Engelse “speech” gemaak het. Hulle sê die Barbertonners was uit hulle velle van vreugde.

Die Volksraadslede was ook baie ingenome daarmee dat ene Juffrou Forsyth die kommando-skiet gewen het met die meeste kolskote. Maar persoonlik is ek meer ingenome met Cockney Liz. “You cannot keep a good woman down”.

bottom of page