top of page

Vivat de vlag

“Ek sien,” sug Skoep swaar; “dat Cosatu die Afrikaanse gedeelte uit

die volkslied wil haal”.

“Pla my min,” sê Dawie en hy sluk diep aan sy Klipdrift;

“Ek het buitendien vasgesteek by “Kent gij dat volk’ en van daai

Zoeloegedeelte weet ek en 80 000 rugbyondersteuners buitendien

niks”.

Ons mooie Sanja, die fraaie kroegdame het deesdae heeltemaal te

veel te sê. “Laat ek julle vertel van die Vierkleur,” sê sy.

Dit was destyds met die inhuldiging van MW Pretorius as president van

die ZAR dat die manne skielik agterkom die ZAR het nie ‘n vlag nie. Kyk,

ons weet ou dominee Jooste was ‘n joiner, maar die Hervormde Kerk van wyk Mooirivier se dominee Dirk van der Hoff was ‘n man wat ‘n plan kon maak. Sommer so in die konsistorie het dominee die Vierkleur ontwerp vir die inhuldiging en as nagedagte ook ‘n gedig geskryf vir die inhuldiging. “Vivat de vlag. Vivat de vlag”.

Die eer vir die eerste vlag val toe op Neeltje Borrius. Haar pa was destyds die staatsdrukker vir die ZAR hier op Potchefstroom. Neeltjie was ‘n pragtige mensie. Mooi gebou en alles. Haar ietwat onaansienlike suster Geertje het die materiaal geknip en Neeltje het die groen, rooi, wit en blou bane aanmekaargestik met haar pragtige, fyn handjies.

Vierkleur.

Toe president MW Pretorius met ‘n perdekommando Potchefstroom binnery vir die inhuldiging toe staan Jan Combrinck met Neeltje se Vierkleur gereed by ‘n paal wat hulle in die bloekombos by Oudedorp loop kap het. Dominee van der Hoff dra “Vivat de vlag. Vivat de vlag” voor en die burgers haal hulle hoede af uit eerbied.

So het Neeltje Borrius se vlag ook gedien by President Burgers se inswering.

“En toe raak dit oorlog,” sê die mooie Sanja.

Daar was hierdie arrogante Engelsman, ene Peter Larter. Waarom die Kakie dit in sy kop gekry het om Neeltje se vlag te annekseer, weet nugter alleen. Die mense sê hulle dink dominee Jooste het aan die Kakies vertel dat die Vierkleur groot simboliese waarde het vir die Boere.

Hierdie majoor Peter Larter bars met ‘n hele peleton by ou Borrius se huis in en hulle keer kaste om en krap laaie deurmekaar op soek na die Boere se staatsvlag. Maar niks. Tannie Borrius gaan skink koffie en Neeltje en Geertje sit pikant op twee stoeltjies in die voorhuis en beskuit eet. Peter Larter kry niks. Nie eers ‘n blou flentertjie lap nie.

“Where’s the flag?” skree daai Engelsman vir Neeltje.

“Ja, flag you too…” glimlag Neeltjie te pragtig dat die kuiltjies in haar wange wys en met ‘n pienk tongetjie lek sy die laaste beskuitkrummeltjies van haar rooie lippe af.

Sien, Neeltje en Geertje het mos die Vierkleur losgetorring voordat Peter Larter daar aangesit gekom het. En toe het Geertje die rooi en die wit bane onder haar rok ingedruk; en Neeltje het die blou en die groen bane onder haar rok ingedruk. Daar waar geen Engelsman sal soek nie.

So het die staatsvlag behoue gebly. Die laaste keer dat dit in Potchefstroom gehys was, was in 1902 toe generaal Chrisjan de Wet hier was. Daarna het kolonel Isak Meyer die beroemde Borrius-vlag aan die Potchefstroomse Museum geskenk.

“Weet jy,” sê Skoep; “as jy in die Pretoriushuis voor daardie vlag gaan staan… en jy dink aan Neeltje Borrius se parmantige boudjies… dan staan jy sommer vanself op aandag…”

Vivat de vlag. Vivat de vlag.

Jaypee van die Zet-a-Er

“Jong,” sê Dawie; “Ek dink die verhaal van Dawid en Goliat is spesiaal in die Bybel ingeskryf vir onse volkie.” Net om dit in perspektief te sit, vra hy vir Sanja, ons mooie kroegdame, om die volgende ene ‘n kleintjie te maak.

“Soos met Jaypee destyds,” reken Skoep.

Jaypee Couper was ‘n klein mannetjie. 144 pond. Maar daardie man kon met ‘n vuis slaan soos ‘n perd wat skop. Hy het maar so deur die ZAR gereis en sy brood met sy vuiste verdien in die groot metropole soos Potchefstroom, Lydenburg en Kimberley.

Dis in Kimberley waar hy die eerste keer onder oom Paul Kruger se aandag gekom het. Kyk, die Griekwa-probleem was nog lank nie uitgesorteer nie en in Kimberley het die grote John Coverwell die kitaar geslaan. John was so effens Griekwa en hy was mos die “Ladies’ Pet” (het op sy boksjapon gestaan). Hy was ook goed 70 pond swaarder as Jaypee.

Die manne wat weet sê Jaypee het die wit waks uit John Coverwell geslaan. Die Staatsekretaris het ‘n bondige telegram gestuur: “Maak Jaypee ‘n burger van die ZAR. Stop.”

“Toe kom daar ‘n grootbek Engelsman hier aangesit,” sê Skoep; “ene Wolff Bendoff.” Die Wolff bendoff land in die hawe in Kaapstad en vang die eerste rytuig Johannesburg toe. Daar loop sit hy ‘n advertensie in die koerant: “Wolff Bendoff has just arrived from England. Would like to box Professor Jaypee Couper in any style he likes. I hope he will come to the point like a solid man”.

Sien, die Engelse moes hierdie nuwe Boertjie gou-gou stilmaak.  Net omdat jy ‘n Griekwa kan wen, beteken nie jy kan die Empaaier wen nie.

Jaypee se bestuurder, ene Harris, is toe inderhaas na oom Paul se Presidentswoning toe. Die dinge was kritiek.

“Daar’s hierdie Engelsman wat sê hy kan enige man in Transvaal pakgee,” sê die bestuurder.

“Skiet hom, “ sê oom Paul.

“Maar daar is ook hierdie Skotse Boertjie, Jaypee, wat sê hy kan die Engelsman pakgee…” sê die bestuurder.

“Bring die papiere vir toestemming dat ek kan teken,” sê oom Paul.

So word die ding toe beplan vir Booysens op 26 Julie 1889. Die prysgeld is ‘n allemintige 4500 pond – die grootste ooit vir ‘n boksgeveg. Die mense sê oom Paul het self 20 pond by die boekies gaan wed op Jaypee.

Maar eers was daar ‘n perskonferensie. Grootbek, gespierde Wollf Bendoff daag daar op met sy stywe Engelse bo-lip en hy belowe Jaypee ‘n ordentlike loesing. Die Engelse, sê hulle, was gaande oor die man. O wee, en daar daag Jaypee op met so groot oorjas en ‘n lastige hoesie en hy lyk siek en gelerig. Die boekies het dadelik die dinge opgestoot na 10:1.

Maar niemand wis natuurlik van Ant Sarie Vollenstee nie. Daar by Jaypee se oefenkamp by Halfweghuis het sy Jaypee onderrig om ‘n sieklike hoesie te gee. En toe het Ant Sarie Jaypee se gesig liggies ingekleur met geel landboukalk. En toe het sy in Pretoria ‘n vormlose jas gaan koop wat vier nommers te groot was vir Jaypee.

So het Goliat hom toe seker liederlik misgis met Dawid.

Bendoff, reken die mense, het afgesit met ‘n vreeslike spoed teen Jaypee. In die derde rondte het hy Jaypee plat gehad met ‘n lyfhou. Maar Jaypee was vinnig op en hy het net aanhou dans en dans en dans weg van Bendoff af. In die sesde rondte was Jaypee weer plat. Die mense het begin murmereer, want Dawid hardloop net heeltyd weg van Goliat af.

Toe, aan die begin van die negende rondte, stap Ant Sarie nader en met ‘n nat waslap vee sy die landboukalk van Jaypee se gesig af. Jaypee staan daar op uit sy hoek en hy soen sy handskoene en hy buig so vir die skare. Toe is die hel los, onthou die ou mense.

Jaypee het Bendoff ‘n helse pak slae gegee daarna en in die 26ste rondte het hy Bendoff finaal platgeslaan dat hy soos ‘n klein seuntjie huil terug Moeder Empaaier toe.

Met sy 200 pond wengeld het oom Paul ‘n paar beeste gaan koop. En toe het hy ‘n telegram gaan stuur: “Maak Jaypee ‘n veldkornet. Stop.”

 

TAALVEGTERS

“Jong,” se Skoep; “vandag se Afrikaanse skrywers is ‘n klomp slapgatte. Hulle taal, taal, taal, maar dis ook waar dit ophou”.

“Ai tog!” reken ons mooie kroegdame, die fraaie Sanja; “Hier kom dit alweer oor Eugene Marais en AG Visser…”

“Gooi drie sterk dubbels,” bestel Dawie; “want ek kry nooit genoeg van daardie storie van Henry Lamont nie”.

Dit was 1932. Eugene Marais, AG Visser en Gustav Preller bou aan die taal met ‘n passie. Maar hulle bou nie net ‘n taal nie, hulle bou ook ‘n volk.

Klop aan AG Visser se deur.

Wie staan daar? ‘n Joernalissie van die Potchefstroom Herald; ene Koomans. In Koomans se hand het hy ‘n geskrif, nogal met sierletters voorop geskrywe “Wine, War and Women”.

“Oom, kyk hier…” se Koomans en hy gee die geskriffie vir Visser met so vieserige hand soos ‘n man wat aan iets vuils gevat het.

Hoor hier, daai “Wine, War and Women” klim onder die Boere in, hoor. ‘n Boer bad net drie keer in sy lewe, staan daar geskrywe – by sy doop, sy troue en sy begrafnis. En verder maak die geskriffie liederlike aantygings teen die Boervroue.

Toe is die jag oop op die skrywer van “Wine, War and Women”. Almal soek die skrywer. Ene De Maude of iets. Eugene Marais, AG Visser en Gustav Preller soek wraak teen die lasterlike aantygings teen hulle volk. Tannie Preller ook, want sy is presidente van die SAVF. Die Transvaalse provinsie stem 30 teen 3 dat die skrywer hulle darem maar grof te na gekom het.

“Nee, nee, “ se Louis Leipoldt; “wat van die man se vryheid van spraak?”

“Vryheid van spraak se gat,” antwoord Gustav Preller; “daar’s g’n vryheid van spraak as jy onder ‘n skuilnaam skryf nie!”

En daar by ‘n studentekoshuis in Pretoria sit ou Tannie Boers en sy blaai deur “Wine, War and Women”. Hoe meer Tannie Boers lees, hoe bekender lyk die woorde vir haar.

Sy roep die jong student Frikkie Jacobsz: “Frikkie, klink hierdie goed nie vir jou ook baie na Henry Lamont nie?”

Henry Lamont is mos destyds ‘n senior lektor in Frans aan Tukkies en hy is die soort van man wat dieselfde uitsprake oor die Boere maak as wat die skrywer van “Wine, War and Women” maak.

“Wragtig!” se Frikkie Jacobsz.

Lang storie kort: Henry Lamont kom nog een aand so lekker aan’t Franse liedjies neurie by sy losiesplek aan, toe vat Frikkie Jacobs, Steyn Vorster en nog twee jong manne hom.

Daai Fransman skree soos ‘n maer vark – maar die manne trek hom kaalstert uit. Frikkie smeer Lamont vol ghries; en Steyn keer ‘n kussingsloop vere op hom uit. Daarna is hulle met die trietsige geteer-en-veerde Lamont weg Kerkplein toe. Op die stoep van Standard Bank maak hulle hom vas met ‘n lekker groot plakkaat wat lui: “Ek is die skrywer van ‘Wine, War and Women”.

Ook nie lank daarna nie, staan Frikkie en Steyn en hulle twee stout makkers in die landdroshof op aanklag van aanranding op Henry Lamont. Verdrietig soos beskuldigdes maar is, maar ook bietjie trots.

Maar daai klaer Henry Lamont skrik homself desmoers, want wie kom daar ingestap in die hof? Advokaat Eugene Marais en Doktor Reitz. “Ons tree pro bono op vir die beskuldigdes, u edele,” spreek Eugene Marais die hof toe.

En wie kom nog? Gustav Preller en AG Visser met pakkasies briewe ter ondersteuning van die beskuldigdes. Tienduisend briewe het die Afrikaanse skrywers ingesamel.

Ag, die mense sê Eugene Marais het skaars met die kruisondervraging begin toe beken Henry Lamont dat hy die skrywer is van “Wine, War and Women” en hy pleit om vergifnis en hy vee traantjies af met ‘n kantsakdoek.

Daai hof het skaars verdaag, toe vlug Henry Lamont in een geel streep weg Frankryk toe.

“Ja swaer,” sê Dawie en hy meet die glas Klipdrift so met ‘n toegeknypte oog; “Ek dink vandag se Afrikaanse skrywers sal eerder ‘n Henry Lamont wil wees as ‘n Eugene Marais…”

bottom of page